Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika/Hoofstuk 1
1. Republiek van Suid-Afrika
1. Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:
a. Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.
b. Nierassigheid en nieseksisme.
c. Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.
d. Algemene stemreg vir volwassenes, ʼn nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en ʼn veelpartystelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ʼn responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker.
2. Oppergesag van Grondwet
Hierdie Grondwet is die hoogste reg van die Republiek; enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.
3. Burgerskap
1. Daar is ʼn gemeenskaplike Suid-Afrikaanse burgerskap.
2. Alle burgers is in gelyke mate–
a. geregtig op die regte, voorregte en voordele van burgerskap; en
b. onderworpe aan die pligte en verantwoordelikhede van burgerskap.
3. Nasionale wetgewing moet voorsiening maak vir die verkryging, verlies en herverlening van burgerskap.
4. Nasionale lied
Die nasionale lied van die Republiek word deur die President by proklamasie bepaal.
5. Nasionale vlag
Die nasionale vlag van die Republiek is swart, goud, groen, wit, rooi en blou, soos in Bylae 1 beskryf en geskets.
6. Tale
1. Die amptelike tale van die Republiek is Sepedi, Suid-Sotho, Tswana, Swati, Venda, Tsonga, Afrikaans, Engels, Ndebele, Xhosa en Zulu.
2. Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.
3. a. Die nasionale regering en provinsiale regerings kan enige bepaalde amptelike tale vir regeringsdoeleindes aanwend, met inagneming van gebruik, doenlikheid, koste, streeksomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking as geheel of in die betrokke provinsie; maar die nasionale regering en elke provinsiale regering moet minstens twee amptelike tale gebruik.
b. Munisipaliteite moet die taalgebruike en -voorkeure van hul inwoners in aanmerking neem.
4. Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls hul gebruik van amptelike tale reël en monitor. Sonder afbreuk aan die bepalings van subartikel (2) moet alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word.
5. ʼn Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad deur nasionale wetgewing ingestel, moet–
a. die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van–
i. alle amptelike tale
ii. die Khoi-, Nama- en Santale; en
iii. gebaretaal; en
b. respek bevorder en verseker vir–
i. alle tale wat algemeen deur gemeenskappe in Suid-Afrika gebruik word, met inbegrip van Duits, Grieks, Goedjarati, Hindi, Portugees, Tamil, Teloegoe en Oerdoe; en
ii. Arabies, Hebreeus, Sanskrit en ander tale wat in Suid-Afrika vir godsdiensdoeleindes gebruik word.