Oom Gert vertel en ander gedigte/Lenteliedjie
←Woltemade se Spook | Oom Gert vertel en ander gedigte Lenteliedjie deur C. Louis Leipoldt |
Die Apie→ |
Lenteliedjie.
Al die veld is vrolik;
Al die voëltjies sing;
Al die kriekies kriek daarbuite;
Elke sprinkhaan spring.
Al die koggelmannetjies
Kom om fees te vier;
Hier galop 'n goggatjie,
Daarso dans 'n mier.
Selfs die vissies spartel
Teen die kafferskuil;
In die groot ou eikeboom
Droom 'n oupa-uil.
Rond in ons Karooland
Is 'n ruik versprei:
Boegoeblom en appelkoos—
Kan jy beter kry?
Katjiepiering-heinings,
Bont met blomme hier;
Rose en sering daarnaas,
Roos en angelier.
Binde vir my same
Katjiepiering wit,
Bobejaantjies blou en bont,
Rose in die lid;
Varings van die klippe,
Afrikaners rooi,
En kalkoentjies uit die vlei—
Algar is so mooi!
Geel gousblomme uit die veld,
Klossies uit die kuil—
Sal ons ooit ons blommetjies
Vir iets anders ruil?
Vrolik is die wêreld,
Vrolik, rant en vlei!
Elke koggelmannetjie
Het sy maat gekry;
Elke gonsrig goggatjie
Is getroud of vry:
Vrolik is die wêreld hier,
Vrolik veld en vlei!