Jump to content

Oom Gert vertel en ander gedigte/Inleiding

From Wikisource
Voorrede Oom Gert vertel en ander gedigte
Inleiding
deur C. Louis Leipoldt
Oom Gert vertel


Inleiding

[edit]

'n Teken van Lewe en Groei.

[edit]

As 'n gesonde kind 'n seker leeftyd bereik, dan begin hy praat, en sy moeder is groots. So ook met 'n volk: solank as hy nog jonk en klein is, is dit voldoende vir hom om na die stem van die moederland te luister; maar sodra hy verstand begin kry, wil hy ook self praat—op sy eie manier. Hoe krom en skeef die eerste woordjies vir volwasse ore ook mag klink, dit getuig van lewe en vooruitgang—en aanhou!

Gedurende die laaste helfte van die neentiende eeu het die Afrikaanse volk selfbewus begin word, en gevolglik ook begin lisp. Toe kom die gebeurtenisse van die end van die eeu; en dié het sy groei sodanig verhaas, dat dit bykans onmoontlik is om in die forse mannetaal van vandag die dowwe stemmetjie van tien jaar gelede te herken.

Sover ek weet, dagteken die allereerste geskrif, waarin die Afrikaans-Nederlandse taalvorm op 'n bewuste wyse aangewend word, uit die jaar 1861. Ons skryftaal is dus uiterlik vyftig jaar oud; en wat beteken vyftig jaar in die lewe van 'n volk? Elkeen weet, hoeveel eeue dit geneem het om 'n standaardtaal in Duitsland of in Engeland te ontwikkel; en in vergelyking met dié lande gaan alles by ons snel, verbasend snel—maar tog nie te snel nie, want ons lewe mos nie meer in die Donker Middeleeue nie, en ons hoef ook nie te wag nie op die koms van 'n Dante, 'n Luther of 'n Chaucer, om vir ons uit 'n legio van dialekte te kies of te smee, wat ons reeds besit—'n algemene Afrikaanse taal.

Die Taal is die Volk Self.

[edit]

Dit is 'n ou gesegde, deur alle eeue heen gehoor, dat volk en taal ten nouste aan mekaar verbonde is. Die taal weerspieël die karakter en die geskiedenis van die volk, wat dit praat; en 'n volk gee alleen dan sy taal op, as hy nie meer as selfstandige volk kan of wil bestaan nie. Die mag van die volkstaal as 'n middel om die volk te ontwikkel en aan te vuur, is ook oorbekend uit die geskiedenis van byna elke nasie ter wêreld. Tereg kon Willems, die wakkere en ywerige kampvegter van die Vlaamse Beweging, getuig:

O Belgen! uw geluk is aan uw taal verbonden;
Slaat uw geschiedrol op; waar gij uw recht geschonden,
Uw heil vertreden vindt, de landspraak vindt ge er bij,
En haar verdelging steeds het doel der dwinglandij;
Want om naar eisch der kunst een moedig paard te temmen,
Moet men door 't slaafsch gebit, vooral zijn mond beklemmen;
Die kunstgreep is aan Spanje en Frankrijk nut geweest,
In 't onderdrukken van den Nederlandschen geest.


En wat omtrent die taal van die Afrikaner? Vorm die 'n uitsondering op die reël? Geensins. Die Nederlandssprekende[1] Afrikaner—'n afstammeling nie alleen van Hollandse, maar ook van Duitse en Franse voorouers—het, deur 'n verblyf van twee eeue en 'n half, onder 'n Afrikaanse son en in 'n Afrikaanse omgewing, kenmerkende eienskappe ontwikkel, wat aan die Hollander van vandag totaal vreemd is. Dié eienskappe word natuurlikerwys in die taal van Suidafrika weerspieël; en juis dié feit is een van die grootste redes vir die skrywe van 'n Nederlandse taalvorm, wat, ewenas die Afrikaner self, uit Suidafrika geboortig is. Ons eenvoudige, maar doelmatige grammatika en die vele tiepiese woorde en uitdrukkinge, in Suidafrika ontstaan of uit ander tale ontleen om in die behoefte van die land te voorsien, roep luid om erkenning, en moet ook erken word, as ons die ontwikkeling van ons volk nie onnodig wil strem nie. En ook niks minder as algehele erkenning is nodig; want om aan tiepies Afrikaanse woorde Hollandse stertjies te gaan las of geslagte toe te ken, en ons dan te wil wysmaak, dat dit goeie "Vereenvoudigde Hollands" is, is niks anders as broeikaswerk, wat die taalgevoel van Hollander sowel as Afrikaner kwes.

Laat die Afrikaner maar eers eenmaal besef, dat sy eie Afrikaans-Nederlands ewe goed en ewe bruikbaar Nederlands is as die hoogste Nederlands van Europa, ja dat dit vir hom 'n baie dienliker en geskikter werktuig is, en hy sal ook gou genoeg by magte wees om te boek te stel alles, wat in en om hom plaas vind.

Die Afrikaanse taalvorm kan tog alleen die draer van 'n eg nasionaal-Afrikaanse letterkunde word: dit is immers bewys, nie alleen deur die werke van 'n Celliers en 'n De Waal, maar ook deur die onmag van hoogbegaafde Hollandsskrywende Afrikaners om tot die hart van die volk deur te dring. Die "Hoog-Hollands" van die Afrikaner bly vir die Hollander tog nog altyd "amper Hollands", en vir die Afrikaner "geen Afrikaans". Dit is dan ook waarskynlik vir alle partye beter, as elke voëltjie in die vervolg maar sing, soas hy gebek is.

Kan Afrikaans 'n Selfstandige Skryftaal word?

[edit]

Elke goeie skryftaal moet aan twee eise voldoen: dit moet in staat wees om ons gedagtes op 'n praktiese, ondubbelsinnige wyse weer te gee, en dit moet ook 'n seker mate van verhewenheid hê. Nou, wie kan bewys, dat die Afrikaanse taal onmagtiger of minder verhewe is as enige ander Germaanse taal? Dit is die taal, wat deur 'n hele volk, ja in die hoogste en aansienlikste kringe van dié volk, gepraat word, en wat hom ook reeds by magte getoon het om die diepste digterlike ideë in sierlike woorde te vertolk.

Die bekwaamheid en doelmatigheid van Afrikaans is nooit ernstig betwis geword; maar meer as een teëstander het sy toevlug geneem tot die standpunt, dat Afrikaans laag en plat is—'n gebrou van Hottentots en Hollands, 'n Maleis-Portugese mengelmoes. Mense, wat so praat, laat hulle vooroordeel met hulle verstand weghol. Hier is die feite: Afrikaans is so "plat", dat selfs Dominee dit in sy preke op die preekstoel gebruik, en dat selfs die hooggeleerdste Afrikaner in sy natuurlike oomblikke hom daarvan bedien in sy huislike omgewing. Taalvorsers, wat in alle verskimmelde hoekies gegrawe het, het al te saam nog geen honderd-en-vyftig Indiese en Hottentotse woorde in ons taal kon aantoon; en onder dié getal is daar nog meer as een, waarvan die afleiding verkeerd of twyfelagtig is. Die Maleis-Portugese invloed veral is geweldig oorskat geword, en daar is o.a. geen voldoende rekening gehou met dié Maleis-Portugese woorde, wat ook in Hollands bestaan of bestaan het, en wat ons dus waarskynlik deur Holland gekry het. Maar dis nie hier die plaas om dié onderwerp te bespreek nie, en ek volstaan dus met daar net op te wys, dat Afrikaans een van die suiwerste Germaanse tale is, wat daar vandag bestaan, oneindig suiwerder as Hollands—om nie eers te praat van Engels nie met sy duisende van vreemde woorde uit elke moontlike taal ter wêreld ontleen. Nee, die taal self is seker goed genoeg.

Maar wat omtrent die omstandighede? Is dit wel wenslik en prakties om in die twintigste eeu met 'n nuwe skryftaal aan te kom? Wel seker is dit. Dit is wenslik, want dit sal ons 'n intellektuele mag en 'n natuurlike selfstandigheid gee, wat ons onmoontlik met 'n ander taalstandaard kan verkry. Nou word dit nog dikwels verskonenderwys gesê: "Hollands is te moeilik; Afrikaans het ek nooit leer spel nie: ek is dus verplig om my toevlug tot 'n vreemde taal te neem." In dieselfde gees word ook menigmaal geklaag: "Hollandse boeke val nie in my smaak nie; Afrikaanse boeke bestaan daar nie, of nie genoeg nie: gevolglik lees ek net Engels." Die slotsom van dit alles is: die Afrikanerdom ly skade, en word van sy beginsels vervreem. Die gees tog is van oneindig groter waarde as die vorm; en sal ons nou, in ons ywer om 'n seker, vir die Afrikaner verouderde vorm te behou, die gees veronagsaam?

Die toestande in ons land is baie gunstiger vir die ontwikkeling van 'n nasionale skryftaal, as dit ooit in enige Europese land gewees het. Daar is by ons, byvoorbeeld, geen teenoormekaarstaande dialekte nie: inteendeel, ons taal is wonderlik eenvormig van die Kaap tot aan die Sambesie; en daar kan dus geen stryd ontstaan omtrent die basis van 'n algemene skryftaal nie.

Ons het ook die voorreg om by die ontwikkeling van ons skryftaal, die hulp in te roep van die hedendaagse taalwetenskap om vir ons die beste woordvorme te bepaal in die paar gevalletjies, waar daar wel verskil van uitspraak bestaan, of om vir ons aan 'n praktiese, wetenskaplike spelling te help; en ons hoef dus nie, ewenas die Europese nasies, dié dinge aan die eeue-durende willekeur van die tyd oor te laat nie.

Dan weer is daar die moderne drukpers, wat ons 'n mag gee, waar geen middeleeuer ooit van gedroom het nie.

Die allergrootste voordeel lê egter daarin, dat ons Afrikaans 'n spruit is van 'n edel en ou geslag, wat nie alleen in Suidafrika nie, maar ook in Holland en Vlaandere voortlewe—'n geslag, wat 'n ryke litteratuur en 'n uitgebreide woordeskat gesamentlik besit.

Vyftig jaar gelede was die taal van die Czechs versmaad en verag, sonder letterkunde en sonder enige regte: vandag bloei die taal in hof en skool en universiteit, nieteenstaande die langdurige verset van die Duitssprekende inwoners van Boheme; en Praag, die hoofstad van die land, het dosyne boekwinkels vol met werke in die Czechiese taal—ja, selfs die straatname van Praag is alleen in Czechies te lees. En dit alles kon binne 'n halwe eeu geskied, en in weerwil van die bitter teëstand van die Duitse taal met sy wêreldlitteratuur! Voorwaar, die saak is in Suidafrika nie hopeloos nie.

Twee Taalstandaarde.

[edit]

Vir my is Afrikaans en Hollands nie soseer twee afsonderlike tale, as twee afsonderlike standaarde van dieselfde Nederlandse taal, waarvan die een meer bepaaldelik in Suidafrika, die ander meer bepaaldelik in Holland tuis hoort. Elke standaard het sy ontstaan te danke aan die besondere behoeftes en omstandighede van 'n besonder land.

Atties, Dories en Ionies was drie letterkundige standaarde van dieselfde Griekse taal; en net so kan Hollands en Afrikaans as twee gewestelike standaarde van dieselfde Nederlandse taal beskou word.[2]

Die "jas" van die Hollander met sy Europese snit en Europese fraiings is nie so geskik vir die Afrikaanse veld, en sit ook nie so bevallig op die breë skouers van die Afrikaner, as die welbeproefde "baadjie"; maar desnietemin kan elkeen tog sien, dat jas sowel as baadjie van dieselfde stof gemaak is.

Een ding staan vas: daar bestaan geen algehele gelykheid meer tussen die taal van Holland en die taal van Suidafrika nie; maar of ons nou ook praat van twee tale of van twee taalstandaarde, die verskille tussen die twee mag nie tot vyandskap voer nie, want hulle bly tog nog nou verwant, en die bloei en welvaart van die een is van ontsaglike betekenis vir die ontwikkeling en vooruitgang van die ander.

Afrikaans veral sal in sy wordingstyd veel te leer hê van die meer ontwikkelde Hollands, en sal ook sy woordvoorraad vir letterkundige en tegniese begrippe uit die ou Nederlandse taalskuur moet aanvul. Dit hoef niemand te bevreem nie, want elke wettige en reggeaarde kind het reg op 'n erfenis, en alle tale (behalwe die basters en die diewe!) het so geërf.

Ook die Hollandse en Vlaamse letterkunde is gemeenskaplike goed en sal dit ook altyd bly solank as die Nederlandse taalvorme nog onderling min of meer verstaanbaar is. Maerlant behoort ewegoed tot die letterkunde van die Afrikaner, as Caedmon en Chaucer tot dié van die Engelsman; en Maerlant is ook heelwat verstaanbaarder aan die Afrikaner as Caedmon, ja selfs as Chaucer, aan die Engelsman.

En dan vra hul nog: "Waar is jul letterkunde, wat ons vir die eksamens kan voorskrywe?" Ag, die eksamenvrees! Dit benewel ons verstand, en selfs manne, wat beter hoort te weet, skrik hul asvaal, as 'n pedante teëstander maar net iets oor "letterkunde" brom—'n teëstander, wat dikwels nie eers weet nie, dat sy geliefde Shakespeare in 'n gemoderniseerde spelling en met 'n verklarende woordelys moet gedruk word, ten einde aan die moderne leser verstaanbaarder te wees!

Geen letterkunde is ooit gebonde aan die besondere taalvorm, wat op een of ander tydperk in swang mag wees nie; en dit is alleen onkunde of vitsug, wat aan 'n Afrikaanse letterkunde eise wil stel, waaraan selfs geen Engelse of Duitse letterkunde voldoen nie.

Met 'n Afrikaanse skryftaal sal daar geen jota minder letterkunde wees as met 'n ander Nederlandse skryfvorm nie. Inteendeel, daar sal veel meer wees; want behalwe die bestaande Hollandse en Vlaamse, sal daar ook 'n spesiaal Afrikaanse litteratuur wees—wat noodwendig moet volg, as die Afrikaner selfbewus bly en 'n doelmatige uitingsmiddel vir sy gedagtes besit. En laat ons tog nooit vergeet nie, dat, hoewel Afrikaans genoegsaam verskillend van Hollands is, en aan 'n genoegsaam aparte en selfstandige volk behoort, om as afsonderlike skryfmedium spesiale voordele vir die Nederlandssprekende bevolking van Suidafrika te besit, dit tog ook terselfdertyd nog genoegsaam gelykend op Hollands is, en aan 'n volk genoegsaam verwant aan die Hollanders behoort, om 'n maklike en dankbare gebruik te kan maak van die geestesskatte in die Hollandse vorm van die Nederlandse taal bewaar. 'n Hartelike eendrag is veel meer werd as 'n doodse eenvormigheid.

'n Oortuigingswerk.

[edit]

Eendrag maak mag, maar tweedrag breek krag, sê ons ou spreekwoord; en die ou spreekwoord is nog altyd bewaarheid geword. Onderlinge verdeeldheid en tweespalk kan alleen tot gewisse ondergang voer, en is ook gevaarliker as die vuur en die swaard van die felste vyand. Dié dinge moet dan ook as dodelike gif vermy word.

Hoe ons Afrikaners ook onderling mag verskil omtrent die beste skryfvorm van ons Nederlandse taal, tog moet ons nooit vergeet, dat daar 'n hoër taaleenheid bestaan, wat geen onderskeid ken tussen Hollands en Afrikaans. Die werk van die Afrikaanse Beweging is dan ook 'n oortuigingswerk; en 'n oortuigingswerk moet dit altoos bly. 'n Vyand kan jy beveg, en desnoods dwing, maar 'n vrind en 'n bloedverwant, met dieselfde belange en dieselfde ideale as jyself, moet jy oortuig—as jy ten minste nie jou eie ondergang wil bewerkstellig nie. Dat die skryftaal van die Afrikaanse volk vroeër of later Afrikaans-Nederlands sal wees, staan by my onteenseglik vas; en ek grond my mening op die geskiedenis van die wording van ander tale en op die herlewing in ons volk; maar dié mening regvaardig my nog glad nie om voortaan teen elke Afrikaner, wat nog aan die ouer taalvorm vashou, te velde te trek nie—en dit selfs onder die oë van die vyand, wat gereed staan om ons albei te verslawe en deur ons verdeeldheid oor ons te heers.

En ons, jong Afrikaners, moet ook nie somaarso die ou kampvegters van 'n vorige geslag oor die hoof sien nie, eenvoudig omdat hulle ons nuwighede 'n bietjie onsimpatiek behandel. Hulle het hul hele lewe lank net Hollands gelees en geskrywe; en die aangebore konserwatisme, wat aan elke mens eie is, en wat seker nie met die jare verminder nie, word lig geskok deur 'n "taaltjie", wat ons is wil skrywe in plaas van wij zijn! So 'n standpunt is nie heeltemal onverklaarbaar nie, en dit hoef ons ook geensins te berowe van die hulp en die raad van dié geharde stryers, wat douvoordag op was om vir ons te werk, en aan wie dit te danke is, dat die bestaan van 'n Afrikaanse Beweging vandag moontlik is.

En die ouer geslag? Sal hulle dan ook nie 'n bietjie notiesie neem van die woorde en werke van die jong geslag nie? Ons stry tog nog vir dieselfde beginsels, waar hulle voor geveg het—net, ons wil Afrikaanse wapens gebruik, omdat dit meer by die hand, makliker te hanteer, en doeltreffender in die stryd is. Ons verwag ook van hulle, dat hul nie die onkundige of bevooroordeelde uitlander sal napraat nie, as hy ons wil wysmaak, dat ons Nederlands 'n patois, 'n mengelmoes, 'n kombuistaal sonder grammatika en sonder woordeskat is! Sulke skreiende onkunde is begryplik in iemand, wat alles, wat Hollands of Afrikaans is, verag; maar by iemand, wat die Afrikaanse taalvorm elke dag hoor en ook self praat, sal ons nie sulke gesegdes soek nie.

Selfs die bewering, dat Afrikaans 'n dialek van die Hollandse taal is, is nie genoeg om die ondienlikheid of onwenslikheid daarvan te bewys nie; want elke litteratuurtaal, sonder onderskeid, het een of meer dialekte tot grondslag; en elke dialek word 'n litterêre taal, sodra 'n volk daarin begin te skrywe en dit tot voermiddel van sy gedagtes maak.[3]

Twis en tweedrag moet ons dus vermy. Maar met dié woorde word geensins bedoel, dat ons voortaan moet stil sit en wag, tot die tyd "ryp" word nie. Die tyd word nooit vanself ryp nie: dis die mense, wat dit ryp maak deur woord en daad.

'n Saak kan altyd op 'n besadigde en verstandige manier bespreek word, en moet ook bespreek word, as ons vordering wil maak; want as ons altyd bang vir verskil van opienie is, dan sal ook nooit enige nuwe denkbeelde kan verkondig word nie; en die gevolg sal wees stilstand en verstening.

Die werk van die Afrikaanse Beweging is, om die volk te "beweeg" en op te wek om die voordele van 'n eie Afrikaanse taal in te sien. Dié werk mag nooit stilstaan nie, voor en aleer die meerderheid van die volk oortuig is. As daar waarheid en lewenskrag in die Beweging sit, dan sal die dag ook gewisselik aanbreek, dat die meerderheid deur minsame rede oortuig word; en dan sal die Afrikaanse taalvorm ook vanself tot sy regte kom, sonder omwenteling en sonder onenigheid.

Ek geloof nie, dat die vurigste Afrikaans-gesinde die Afrikaanse taal wil forseer en aan die volk teen wil en dank wil opdring nie. Dit is nie alleen gek nie, maar onmoontlik! Nee, van opdring en dwing is daar geen sprake nie: die werk is 'n oortuigingswerk. Aan die werk kan en moet elkeen, wat reeds oortuig is, help, want hoe eerder ons die meerderheid aan ons kant het, hoe beter vir die verstandelike vooruitgang van ons volk.

En die beste middel om ander te oortuig, is om self die Afrikaanse taal, by elke geleentheid, te gebruik, en sodoende die nut en die dienlikheid daarvan te bewys. Woorde wek, maar voorbeelde trek.

Alles maar Slim Praatjies!

[edit]

En hoe antwoord die teëstanders die argumente ten gunste van 'n Afrikaanse skryftaal?

Gewoonlik is dit 'n siddering en 'n bewing vir 'n breuk van die band met Holland, en daar word dan gepraat en gehandel, asof die sogenaamde "Vereenvoudigde Hollands" van Suidafrika gelyk is aan die skryftaal van Holland, terwyl die feit wil, dat die oorgrote meerderheid in Holland van geen vereenvoudigde skryftaal wil weet nie, en die Hoog-Hollands van die Afrikaner ewe "raar" vind as sy Afrikaans.

Sê die Afrikaner, dat Hollands styf en onnatuurlik vir hom is, dan antwoord die teëstander, met 'n skyn van geleerdheid: "Het Hollands lijkt de Afrikaner stijf en artificiëel om geen andere reden, dan dat hij er geen behoorlik onderricht in heeft gehad, en hij het zo slecht kent. Had het Hollands op school gelijke rechten met het Engels, dan zou het Afrikaanse kind zich het Hollands veel gemakkeliker eigen maken dan het Engels. In Holland wordt dat bewezen, doordat de Fries, de Brabander, of de Limburger, die ook thuis en in de dagelikse omgang buitenshuis zijn eigen taal of dialekt spreekt, toch ook met gemak Hollands leest en spreekt." Dié argument word af en toe gehoor, veral uit Holland, en dit geld as 'n besonder kragtige argument. Die redenasie is egter ver van oortuigend. Geen verbeterde onderwys kan die natuurlikheid van die alledaagse omgangstaal aan 'n ander taalvorm gee nie—nee, nie eers in Friesland, Brabant of Limburg nie. Suidafrika, egter, is geen provinsie van Holland nie, en sy belange en toestande is totaal verskillend: hier word o.a. 'n felle taalstryd gevoer—'n seën, waarvan die drie genoemde provinsies vry is. Had ons 'n menigte dialekte, dan was daar natuurlik nog veel te sê vir Hollands as onsydige landstaal; maar die vry grote eenvormigheid van Afrikaans oor ons hele spraakgebied maak die gebruik van 'n ander gemeenlandse taal onnodig en onprakties. In grammatika is die verskille tussen Hollands en Afrikaans ook veel ingrypender as tussen Hollands en enige dialek van Holland; en in dié hoogs belangryke opsig staan Afrikaans werklik nader aan Engels. Dink maar net aan die woordgeslag en die ingewikkelde vervoeging van die skryftaal en die dialekte van Hollands en Vlaams! Dit maak ons taalstryd soveel gevaarliker, daar Engels nie alleen op sy eie eenvoudige grammatika, maar ook op die natuurlike ontvanklikheid van die Afrikaner kan staat maak. Alleen die erkenning van ons eie grammatika sal teen dié gevaar bestand wees.

Dit word heel dikwels beweer, dat Afrikaans te na aan Hollands staan om as afsonderlike litteratuurmedium op te tree. Maar is Deens, Noors en Sweeds dan nie ewe na aan mekaar verwant nie? En staan Spaans en Portugees ook nie betreklik na aan mekaar nie? Hoe na aan of hoe ver van 'n ander taal dit staan, het niks hoegenaamd met die noodsaaklikheid of die dienlikheid van 'n taal as selfstandige skryftaal te doen nie. Elke selfbewuste volk, wat 'n afsonderlike geheel vorm, met afsonderlike maatskaplike en staatkundige belange, sal die taal, deur die meerderheid van die volk gepraat, tot skryftaal ontwikkel, onverskillig hoe min of hoe veel dit op die skryftaal van 'n ander volk gelyk.

Dan weer heet dit, dat ons bevolking te klein is. Maar Ysland, met sy wêreldberoemde saga-litteratuur, het selfs op sy bloeiendste tydperk nie meer as 600000 inwoners gehad nie; en Wales, 'n ander land, waar die tweetalige duiwel aan die woed is, tel ook maar sowat een miljoen Welssprekende, en tog is daar geen tekens, dat die Welse taal aan uitsterwe is nie. En waarom moet ons, Afrikaners, dan moed opgee—ons, wat by die dag meer word?

Die vrees is ook meer as eenmaal uitgespreek, dat 'n Afrikaanse skryftaal nodeloos ons lesende publiek sal beperk tot die driekwart miljoen Afrikaners en ons geen lesers onder die miljoene van Holland sal besorg nie, en dat die klein debiet van ons boeke dan geen skrywers sal uitlok en dus die ondergang van die Nederlandse taal in Suidafrika sal vergewis. Dit is egter in die laaste jare ten duidelikste geblyk, dat die bevolking van Holland veel meer belang stel in ons Afrikaanse as in ons "Hoog-Hollandse" produkte. Hollands en Afrikaans is ook onderling nog vry verstaanbaar, sodat 'n Afrikaanse werk, wat die moeite werd is om te lees, altyd ewe gretig in Holland en Vlaandere as in Suidafrika sal gelees en verstaan word, ewenas die intelligente bevolking van Suidafrika sal voortgaan om Hollandse en Vlaamse werke te lees en te bestudeer.

Die tweetaligheid van Suidafrika en die daaruit spruitende onluste verskaf stellig die mees geliefde argument teen die gebruik van die Afrikaanse skryftaal. So'n kersvers Afrikaans, heet dit, kan tog onmoontlik standhou naas die Engelse wêreldtaal, met sy uitgebreide litteratuur. Maar wat leer die voorbeeld van Boheme ons? En leer Wales en Ierland ons ook nie, dat 'n wêreldtaal met 'n wêreldlitteratuur nie altyd die sterkste is nie?

Die gebruik van die Afrikaanse skryftaal sal ook geen verandering in die bestaande spreektaal bring nie (behalwe dat dit die spreektaal teen verwildering sal bewaar); en ook die bestaande letterkunde sal bly, in watter taalvorm dit ook al mag geskrywe wees. 'n Skryftaal, wat maklik en prakties is—dis al, wat ons meer wil hê. En hoe makliker ons skryftaal, hoe hoopvoller die taalstryd; want 'n maklike grammatika en 'n maklike spelling het nog in elke taalstryd twee gedugte wapens geblyk. Laat elkeen maar eers besef, dat sy alledaagse Afrikaans goed genoeg is om te skrywe, en kyk dan, of die Afrikaner nog Engels aan sy mede-Afrikaner sal skrywe!

'n Ander argument, wat 'n seker klas mense by voorliefde van gebruik maak, is dat die meerderheid van die volk teen Afrikaans is,[4] en dat ons net onnodig stryd verwek. Maar watter hervorming het ooit met 'n meerderheid begin? Die volk is meestal teen 'n nuwe ding, eenvoudig omdat die nut en die voordeel van die nuwe ding nog nie duidelik gemaak is nie; maar om nou die volksonwetendheid en -vooroordeel 'n ekskuus vir individuele swakheid en papheid te maak, is baie dieselfde soort redenasie as dié, wat Adam en Eva in die Paradys gebruik het om hulle ongehoorsaamheid te verontskuldig. Of Afrikaans is die beste skryfvorm vir die Afrikaner, òf dit is dit nie; en as dit bewys is, dat dit die beste is, dan word dit die dure plig van elke opreggesinde Afrikaner om vir die spoedige en algehele erkenning daarvan te werk. Hulp by die saai is veel meer welkom as hulp by die maai.

Die Verband van die Taal.

[edit]

Die verskil tussen Afrikaans en Hollands lê hoofsaaklik in die grammatika, en by name in die fleksie. Die woordeskat en die idioom van die twee taalvorme is nog baie eners, hoewel ook hier volstrek geen algehele gelykheid bestaan nie.

Tereg sê meneer Preller:

Afrikaans is vir ons méér as Hollands, omdat dit Afrikaans is plus Hollands: Hollands, verryk met die Afrikaanse woordeskat, en sagter en buigsamer gemaak in 'n Afrikaanse vorm-leer. Dis àl.

Dit lyk duidelik genoeg, maar desnieteenstaande is dit 'n treurige feit, dat baie van ons allerbeste skrywers die taal skandelik verkrag deur onnodige ontleninge uit die Hollandse grammatika. Ons woordeskat kan en moet ons aanvul uit die Groot-Nederlandse voorraadskuur, maar ons grammatika moet altyd suiwer Afrikaans bly. Word dié eenvoudige beginsel veronagsaam, dan berowe ons nie alleen ons taal van sy eienaardige karakter nie, maar ontneem ons ook onsself alle reg om 'n aparte taalstandaard vir Suidafrika te ontwikkel.

Grammatiese vorme as wy (Afr. ons), syn (Afr. wees en is), ben (Afr. is); der (Afr. van die); verlede tye as kwam, werkte, hoopte; infinitiewe as kappe, rukke, sitte; partisipiële konstruksies as sy staat te wag, vashouende in haar één hand haar sambreel, is geen Afrikaans en sal dit ook nie maklik word nie. Sulke geleende vere ontsier baie van ons verhewenste poësie, en gee ons die onaangename indruk, dat ons tiepies Afrikaanse woordvorme en sinswendinge nie goed genoeg vir wit papier is nie.

Die bestaan van 'n buigingsvorm in Hollands is ook nog glad geen rede vir die invoer daarvan in Afrikaans nie; en ons taal is ook voorwaar nie armer nie, as dit 'n buigingsvorm mis, wat in 'n Hollandse of Latynse grammatika aangetref word. Die buigingsvorm, as sodanig, het maar heel weinig waarde: dis die betekenis daardeur uitgedruk, wat van belang is, en dieselfde betekenis word in een taal deur middel van 'n buigingsvorm, maar in 'n ander taal deur middel van 'n partiekel of aparte woord of woorde uitgedruk. As dié eenvoudige feit onthou word, dan sal daar veel minder wysheid uitgekraam word oor die "armoede" van Afrikaans, wat, soos dit heet, nie eers 'n verlede tyd het nie! As buigingsvorme 'n taal ryk maak, dan moet die Boesmantaal stellig baie ryker as die Engelse taal wees!

Die reëls van ons taal moet netsowel as die reëls van die versmaat en die rym gehoorsaam word; en elke skrywer moet onthou, dat hy ons Afrikaanse taal nie somaarso in enige Hollandse pakkie kan dwing, of dit na hartelus met ou vorme kan besaai nie. Verouderde grammatiese vorme moet selfs in poësie uitsondering en nie reël wees nie; en in gewone prosa is dit eenvoudig onduldbaar. Die grammatika is die verband tussen die boumateriale of die woorde van die taal, en daarvan hang die stewigheid en die selfstandigheid van elke taalgebou af. Sonder die regte verband word die grootste woordeskat 'n majestueuse ruïene.

Nog 'n Plantjie vir die Tuin!

[edit]

Die gedigte in hierdie Afrikaanse bundeltjie is 'n nuwe blyk van die bewusword van ons volk en van ons ontluikende Afrikaanse letterkunde. Ek ken die skrywer al vir jare, maar dit was eers onlangs, dat ek ontdek het, dat hy kon "rympies" maak. 'n Gesprek met hom oor die toekoms van die Nederlandse taal in Suidafrika het my die aangename kennismaking met sy gedigte besorg. Ek het die handskrif met soveel genoeë deurgelees, dat ek daar ten volle van oortuig was, dat dit te goed is om in 'n tafellaai te lê en roes. Ek laat dit aan die leser oor om te oordeel, of ek heeltemal verkeerd het!

Die gedigte was my weer 'n nuwe bewys, dat ons eie Afrikaans tog maar die natuurlikste voermiddel vir die Afrikaner is; en dit het dan ook tot my hart gespreek op 'n wyse, soas alleen die moedertaal by magte is.

Ek het van die gedigte van my vrind Leipoldt gehou, want ek het daarin gekry 'n ware digtersiel vol gevoel en verbeelding, wat weet om die leed van homself en van sy volk te vertolk; 'n wonderlike vertrouelikheid met die lewe, kleure en poësie van die natuur; en 'n ongekunstelde, melodiese Afrikaans—kenmerke, wat die skrywer m.i. 'n eervolle plaas onder ons ander Afrikaanse digters besorg. Die inhoud van die gedigte kan in sy eie woorde opgesom word:

Ek sing van die wind, wat tekeer gaan,
Ek sing van die reën, wat daar val,
Ek sing van ons vaal ou Karooland,
Van blomme, wat bloei by die wal,
Van water, wat bruis oor die klippe,
Van duikers, wat draf oor die veld,
Van voëls, wat daar sing in die bossies,
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

Is iemand vatbaar vir egte natuurgenot, laat hy dan die Lenteliedjie en Oktobermaand lees, waar hy 'n pragtige natuurprentjie in bekoorlik-eenvoudige taal geskilder sal aantref. Maar hoe lief Leipoldt ook al die natuur het, dit is nie hoofsaak by hom nie: dit dien maar vir teëstelling of vir agtergrond vir sy eie diepgevoelde smart. Hy is in die eerste plaas 'n digter, wat onthou, wat sy volk wedervaar het.

Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
Die smarte, die angs, het so baie gepla?
Die yster het gloeiend 'n merk vir die eeue
Gebrand op ons volk, en die wond is te na,
Te na aan ons hart en te diep in ons lewe:
"Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!"

Dieselfde snaar hoor ons besonder duidelik tril in Aan 'n Seepkissie, Die ou Blikkie, Vrede-aand en Oom Gert vertel.

Ja, Leipoldt is iemand, wat in sy siel voel en wat "uit pure verstrooiing" genoodsaak word om te sing; en vir my altans het sy sang geweldig bekoor.

Ek heet die gedigte hartelik welkom, en hoop, dit sal 'n weerklank vind by menige Afrikaner, wat nie alleen 'n oog het vir die skoonhede van die natuurlewe en 'n oor vir die klanke van ons eie taal nie, maar ook 'n hart vir die lyde van 'n digter, wat meevoel met sy volk.

JOHANNES J. SMITH.

Londen, Oktober 1911. Stellenbosch, Oktober 1916.

Aantekeninge

[edit]
  1. "Nederlands" word in hierdie Inleiding altyd gebruik in sy wye betekenis, en sluit in: Hollands (die taal van die Hollanders), Vlaams (die taal van die Vlaminge) en Afrikaans (die taal van die Afrikaners). Hollands en Afrikaans is twee standaarde of vorme van dieselfde Nederlandse taal.
  2. Ook Vlaams kan as 'n aparte standaard van die Nederlandse taal beskou word; maar die verskil tussen Hollands en Vlaams is nie so groot as die tussen Hollands en Afrikaans nie. Daar is ook al 'n Indies-Nederlands, wat veral in woordeskat heel wat afwyk van Hollands-Nederlands
  3. So is Engels oorspronklik niks anders as die dialek van Londen, Hollands die dialek van Suidholland, Frans die dialek van Parys, ens. Afrikaans is reeds dikwels by een of ander van die vele Nederlandse dialekte vergelyk; maar sulke vergelykinge lewer geen afdoende bewys nie, want uit 'n blote taaloogpunt beskou, is Hollands ook maar 'n dialek van Duits, en Portugees 'n dialek van Spaans. Die taal van 'n afsonderlike volk en van 'n uitgestrekte wêrelddeel is nie dieselfde nie, as die taal van die inwoners, dikwels alleen van die laagste inwoners, van een of ander stad of streek, wat maar 'n kleine onderafdeling vorm van 'n groter geheel; en Suidafrika staan in 'n heel ander verhouding tot Nederland, as, sê, Rotterdam of Zeeland.
  4. In 1916 is dit waarskynlik nie meer waar nie. Afrikaans geniet nou al aansienlike erkenning in die laer onderwys, in enkele kerkgenootskappe, in die dagbladpers en op publieke platforms. En Jong Suidafrika is byna as één man ten gunste van Afrikaans.