Jump to content

Oom Gert vertel en ander gedigte/In die Konsentrasiekamp

From Wikisource
Aan my ou Vrind Oom Gert vertel en ander gedigte
In die Konsentrasiekamp
deur C. Louis Leipoldt
Die ou Meul


In die Konsentrasiekamp.

(Aliwal Noord, 1901)

         
                               O, pazienza, pazienza che tanto sostieni!
                                                                                Dante.


Jou oë is nat met die trane van gister;
        Jou siel is gemartel, deur smarte gepla;
Van vrede en pret was jy vroeër 'n verkwister;
        En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,
'n Spreekwoord tot steun—daar's geen trooswoord beslister:
        "Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!

Hier sit jy te koes teen die wind, wat daar suie
        Yskoud deur die tentseil, geskeur deur die hael—
Jou enigste skuil in die nag teen die buie;
        Die Junielug stort oor die stroom van die Vaal—
Jy hoor net die hoes van jou kind, en die luie
        Gedrup van die reendruppeltjies oor die paal.

'n Kers, nog maar anderhalf duim, voor hy sterwe,
        Brand dof in 'n bottel hier vlak naas jou bed.
('n Kafhuis gee makliker rus: op die gerwe
        Daar lê 'n mens sag, en sy slaap is gered!)
En hier in die nag laat jou drome jou swerwe
        'n Aaklige rondte met trane besmet.

Hier struikel die kind, wat te vroeg was gebore;
        Hier sterwe die oumens, te swak vir die stryd;
Hier kom 'n gekerm en gekreun in jou ore;
        Hier tel jy met angs elke tik van die tyd;
Want elke sekond van die smart laat sy spore
        Gedruk op jou hart, deur 'n offer gewyd.

En deur elke skeur in die seil kan jy duister
        Die wolke bespeur oor die hemel verbrei;
Geen ster skyn as gids; na geen stem kan jy luister—
        (Eentonig die hoes van jou kind aan jou sy!)
Wat sag deur die wind in jou ore kom fluister:
        "Geduld, o geduld, wat so baie kan ly!

Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
        Die smarte, die angs, het so baie gepla!
Die yster het gloeiend 'n merk vir die eeue
        Gebrand op ons volk, en die wond is te na,
Te na aan ons hart en te diep in ons lewe—
        "Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!"