Jump to content

Oom Gert vertel en ander gedigte/In Amsterdam

From Wikisource
Aan 'n ou Boek Oom Gert vertel en ander gedigte
In Amsterdam
deur C. Louis Leipoldt
In die Boesmanland


In Amsterdam.

[edit]

As ek vanaand so moedersiel
        Alleen hier by die vuurherd sit,
Dan borrel my geheue op,
        En maak my hart en siel uit lid;

Dan dink ek aan die veld, en aan
        Die doringbome by die krans,
Waar koggelmannetjies die son
        Hou vir 'n maat om mee te dans;

En aan die duine, waar die wind
        'n Wierook na die see toe waai,
En aan die dam, waaroor die voëls
        So vrolik in die nessies swaai;

En aan die seekoegate, waar
        Die kafferskuil en ruigte groei—
'n Donker groen die water oor,
        'n Tuin, wat nooit nie word gesnoei;

En aan die koppies, waar die son
        Ons Afrikaanse klippe soen.
En aan ons ou Karoo, so mooi
        In al sy geil Oktober-groen!

En hier—hier waai die wind, en raas
        Die strate om my; karre dreun;
Die trein daarbuite fluit en rook:
        Dis orals galm, en gons, en steun!

Dis alles oud, so aaklig oud,
        Die wye wêreld om my heen!
Aghonderd jare praat met my—
        En tog—ek gril en voel alleen!

Ons kom van hier; ons wieg was hier,
        Of verder, in die suiderland—
Hier, waar die Watergeuse was,
        Hier, waar die strate is half strand.

Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
        Met al jou pronk, met al jou prag,
Met al jou smeerge strate ook,
        Jy het nog oor my siel gesag!

Ek voel, as ek hier moedersiel
        Alleen so by die vuurherd sit,
Wat jy nog vir ons nasie is—
        En kyk, my hart kom weer in lid!

Ons nasie? ag, die mense praat:
        Daar lê iets groots in woorde! Wat
Gee ons die reg om groot te wees,
        Om saam te loop op so 'n pad?

Vir tagtig jare het hul hier
        Gestruikel in die duister rond,
Die dyke oopgebreek, die see
        Gemaak tot bobaas van die grond,

Die land gedoop met vuur en bloed,
        Die klei vir elke huis deurwerk
Met trane: so 'n stad sal staan
        Vir ewig—want die klei is sterk.

En elke duim van hierdie land
        Is duur gekoop met suur en smart;
En elke morge is betaal
        Met stukkies van 'n mensehart:

Dit gee hul reg om trots te wees,
        Dit gee hul reg om nou te pronk,
Al is dit lank gelede al,
        Al is die see weer in sy tronk.

En ons? ons wil 'n nasie wees!
        Ook agter ons lê vuur en bloed;
Ook ons het vir ons land gestort
        'n See van trane: ja, dis goed!

Maar verder—wat? 'n Nasie word
        Nie somaar as die koring groot:
Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart,
        Deur lewe ook word voortgestoot.

En as ek by die vuurherd sit
        En in die vlamme kyk, dan voel
Ek in my siel, daar skort nog iets—
        Nog iets? nog iets?—'n hele boel!

Daarbuite spook die wind weer hard;
        Die vensters skudde: wat 'n nag!
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
        Jy het nog oor my siel gesag!