Afrikaner-Volkseenheid/Oorlog en Rebellie
←Eerste Politieke Kontakte | Afrikaner-Volkseenheid Oorlog en Rebellie deur D. F. Malan |
Die Kerk Tree Op→ |
straat haastig agter my aangekom het, my voor die huis van
ouderling Muller, en deel my mee dat daar oorlog uitgebreek
het. Dit was die Eerste Wêreldoorlog, en weinig kon ek toe
besef watter diep ingrypende en verreikende gevolge dit sou
hê, vir die hele Suid-Afrika, en ook hoe dit aan my eie lewe ’n
nuwe wending sou gee. In alle opsigte was dit die begin van 'n
nuwe periode. Onmiddellik het dit onder die Botha-Smuts-
leuse van ,,eer en plig" Suid-Afrika aan Engeland se kant in
die oorlog ingetrek. Daarby is deur die gebruik van ons
Verdedigingsmag om Duits-Suidwes-Afrika in te val, dwang
uitgeoefen op ’n slag wat slegs twaalf jaar tevore ná 'n lang-
durige en bittere stryd vir vryheid en vir reg teen dieselfde
Engeland hul republikeinse onafhanklikheid moes prysgee. Die
herinnerings en die wonde was nog vars. Hierdie beleid, wát op
ander gronde ook al ten gunste daarvan aangevoer kon word,
was om die minste daarvan te sê, onmenskundig, en as sodanig
uit gesonde politieke oogpunt beskou, ook verwerplik. Om te
vergeet, in so 'n korte tyd, was op sigself al onsielkundig en
onmoontlik, maar om die oorwonnene en diep veronregte ook
nog te dwing om die oorweldiger te gaan help in 'n stryd
sesduisend myl ver, en wat, soos dit beskou was, hóm alleen
aangaan, was onmenslik. Begryplikerwys was daar veront-
waardiging. Innerlike protes het oorgeslaan in uiterlike, en toe
dit die vorm van 'n ,,gewapende protes” aanneem, waarmee
drie van die beroemdste Boeregeneraals uit die Tweede
Vryheidsoorlog hulle vereenselwig het, te wete De la Rey,
De Wet en Beyers, het die Botha-Smuts-regering self ook sy
troepe begin mobiliseer. Onder die protesterendes was onder
andere kommandant Jopie Fourie van De Wildt, wat hom by
die kommando's in die veld gevoeg het onmiddellik ná die
woeste tonele waarmee genl. Beyers, wat kort tevore as Kom-
mandant-generaal bedank het, in Pretoria se Stadhuis begroet
was. 'n Botsing met regeringstroepe het plaasgevind en Jopie
Fourie is gevange geneem en in Pretoria voor ’n krygsraad
gebring.
Op daardie tydstip was ek weer in Pretoria. Die doel van
my koms was geen politieke nie, maar ’n kerklike. Maar in 'n
ernstige krisistyd soos dié waarin die Afrikanervolk toe verkeer
het, was die twee onafskeidbaar van mekaar. Die krisis op die
één gebied is gevolg deur krisis op die ander. Die verloop van
sake sover as dit my betref, was as volg:
Ds. A. F. Louw, wat op Graaff-Reinet waargeneem het vir
my kollega ds. P. K. Albertyn, wat afwesig was op ’n reis in
Europa, kry 'n brief van sy broer ds. James Louw, predikant
op Boksburg. Dit was vol bekommernis oor die toestand, veral
op kerklike gebied. Omdat daar krygswet was, wou hy niks
meer skrywe nie, as net om sy broer op Graaff-Reinet te vra
om self te kom kyk, en om my dan ook saam te bring. Dadelik
kon ek egter nie gaan nie, omdat ek as een van die eksaminatore
by die proponentseksamen eers daarvoor na Kaapstad moes
gaan. Ons maak toe egter afspraak met mekaar om, sodra dit
afgeloop sou wees, mekaar op Colesberg te ontmoet, en dan
verder saam na die Noorde te reis. Dit gebeur toe ook. Ons
eerste halte was Bloemfontein, waar ons Dingaansdag deur-
gebring het. Wat ons hier ontdek het, was eenvoudig onrus-
barend. Volgens mededeling van dr. (Vader) Kestell en
ds. Van der Merwe, organiserende en rondreisende Sending-
sekretaris van die N.G. Kerk, was die Kerk besig om te skeur.
Sommige kerkrade was besig om die rebelle onder sensuur te
sit, terwyl ander weer dieselfde gedoen het ten opsigte van dié
wat teen die rebelle die wapens opgeneem het. In die omstan-
dighede en om 'n grootskaalse ramp te voorkom, het Vader
Kestell geoordeel dat die Kerk as geheel nou moes ingryp en
leiding gee. Hoe dit moes geskied, was toe egter nog nie duidelik
nie.
Ná ons aankoms te Boksburg vind ons toe dat vrywel die-
selfde toestand ook in Transvaal heers. Die drie van ons besluit
toe om die volgende dag na Pretoria te gaan, waar ds. James
Louw van genl. Smuts persoonlik verlof moes kry om genl.
Muller in die hospitaal te gaan besoek. Genl. Muller was een
van sy gemeentelede, 'n rebel, en kort tevore in 'n geveg swaar
gewond. Daar gekom, het ons reguit na genl. Smuts se kantoor
in Paul Krugerstraat gegaan. Ds. James Louw het eers sy
versoek aan die Minister voorgelê, maar dit is kortaf geweier.
Daarna het genl. Smuts die woord geneem en teenoor ons
gekla dat die Afrikanervolk van inbors en gedaante heeltemal
verander het. Hy ken die volk haas nie meer nie. Ek het gevoel
dat die aantyging nie onbeantwoord kon bly nie, en omdat ek
as ’n byna lewenslange kennis van hom vrymoedigheid met
hom gehad het, was my antwoord: ,,Generaal, vir 'n individuele
mens is so 'n spoedige en radikale verandering miskien wel
moontlik, maar by 'n volk as geheel kan dit nie! Maar mag ek
aan u hierdie vraag stel? Waar die volk dieselfde moes gebly
het, het u en genl. Botha nie miskien verander nie?’’ Met die
versekering dat hulle op die weg wat hulle ingeslaan het, sou
voortgaan, was die onderhoud dan ook afgeloop. Wat dit
beteken het, sou op daardie selfde aand nog duideliker begin te
blyk.
As dit blote toeval was - wat ek nie glo nie - dat ek juis op
daardie aand, en op daardie uur, in Pretoria was, dan lyk toeval
soms waarlik na ’n wonderwerk. In ieder geval was die gebeure
van daardie aand die begin van 'n opeenvolging van gebeurte-
nisse, op kerklike én politieke gebied, wat tot die merkwaar-
digste gedeeltes van ons volksgeskiedenis behoort. Dit was nie
alleen self geskiedenis nie, maar dit het ook geskiedenis gemaak.
Op daardie aand was ek tuis by my vriend George Hofmeyr,
Sekretaris van Unie-onderwys. Terwyl ons met aandete nog
aan tafel sit, kom daar onverwags twee besoekers aan om my
te spreek. Dit was twee gewese medestudente van my aan die
Universiteit van Utrecht in Holland, te wete dr. Gey van
Pittius, later regter in Transvaal, en dr. Grünberger, toe
mediese praktisyn in Pretoria. Eersgenoemde was die advokaat
van Jopie Fourie, gevange rebelleleier, by sy verhoor voor die
krygsraad. Die verhoor, so het hy ons toe meegedeel, was reeds
afgeloop, maar die vonnis sou eers later uitgespreek word, en
volgens sy oortuiging sou dit die doodvonnis wees. Indien daar
dus nog enige kans was om sy lewe te red, dan moes daar dade-
lik, en wel nog daardie selfde nag, gehandel word, want die
tekens was daar dat onmiddellik ná die doodvonnis die tereg-
stelling sou plaasvind. Hulle het verneem dat ek in die stad was,
en hul versoek was dat ek 'n petisie moes optrek, versoekende
dat Jopie se lewe gespaar moes word. Hulle sou dit daardie
selfde nag wyd en syd, en selfs ver buitekant die stad, laat teken
om nog die volgende dag (Saterdag) per spesiale deputasie aan
genl. Smuts te laat oorhandig. Ek was gewillig op voorwaarde,
egter, dat die plaaslike leraar, ds. Bosman, tot wie se gemeente
Jopie behoort het, sy tevredenheid met die voorgestelde reëling
te kenne sou gee. Spoedig was hulle terug met die berig dat
ds. Bosman nie alleen tevrede was nie, maar ook begerig was
om in die deputasie te dien. So is die petisie toe opgetrek.
Honderde het dit daardie selfde nag nog geteken, en nog baie
ander die volgende môre. Daarmee het die deputasie Saterdag-
namiddag na Irene, genl. Smuts se woning, vertrek. Behalwe
ek self het die deputasie bestaan uit ds. Bosman, dr. Gey
van Pittius, dr. Grünberger, ds. Christie Neethling van Gezina
en mnr. Jan Joubert, (parlementslid en seun van wyle genl.
Joubert, die Boeregeneraal by Majuba).
Die militêre wag by die uitgang uit Pretoria, by wie ons ons
moes aanmeld, het ongetwyfeld genl. Smuts telefonies van ons
koms in kennis gestel, indien hy dit nie reeds langs ander weg
geweet het nie. Ons ondervinding was toe as volg: By sy huis
aangekom, meld ons ons aan en vra om genl. Smuts te spreek.
Die antwoord was dat hy nie tuis was nie, maar vir 'n lang
wandeling in die veld uitgegaan het. Ons word nie binnegenooi
nie, en besluit toe maar om buite te wag. Toe ons later vra om
mev. Smuts te sien, kry ons tot antwoord dat ook sy nie tuis was
nie, hoewel 'n seuntjie wat buite gespeel het, ons net tevore
meegedeel het dat sy moeder binne besig was ,,om die ,baby'
aan die slaap te maak". Ná 'n tyd word ons toe weer van binne
meegedeel dat ons nie hoef te wag nie, omdat die Generaal nie
na sy huis sou terugkeer nie. 'n Motor sou hom dan in die
veld opgelaai en na Pretoria geneem het. Op ons vraag hoe
hulle dit dan te wete kon kom as hy nie eers weer uit die veld
na sy huis toe gekom het nie, kon geen verstaanbare antwoord
verkry word nie. Teleurgestel moes ons deputasie toe na
Pretoria terugkeer, met die oortuiging ten minste van één lid,
te wete myself, dat genl. Smuts wel deeglik in sy huis op Irene
was, maar hom opsetlik skuilgehou het. Ds. Bosman het egter
onderneem om te probeer om in Pretoria nog daardie selfde
aand kontak met hom te verkry. Soos hy egter later aan ons
gerapporteer het, het die kantoor van die Eerste Minister gesê
dat hy by die Pretoria Club was, waar hy gewoonlik tuis gegaan
het, en die Club weer het gesê dat hy by sy kantoor was. Ons
was magteloos. Intussen het ds. Bosman my gevra om vir daar-
die nag sy gas te wees, aangesien ek volgens belofte die volgende
(Sondag) môre die diens vir hom in sy kerk sou waarneem.
Ek het ingewillig.
Kort na vyfuur daardie Sondagmôre open ds. Bosman sag
my kamerdeur, vertel my dat hy geroep was na die Sentrale
Gevangenis, en dat hulle Jopie Fourie toe net doodgeskiet het.
Ons was sprakeloos aan beide kante. Soos ons later verneem het,
was daar ten minste één waardige ou weduwee wat die gelyk-
tydige skote van die militêre peloton werklik hoor val het. Dit
was die vrou van wyle genl. Joubert, held van die Eerste
Vryheidsoorlog en van Majuba. Alles was toe verby. Maar in
figuurlike sin het daardie skote daarna weerklink in die ore en
in die harte van duisende dwarsdeur Suid-Afrika, en het dit bly
weergalm dwarsdeur die daaropvolgende geskiedenis van ons
volk, beide in Kerk en in Staat. Toe die daglig daardie Sondag-
môre aanbreek, was Pretoria asof in ’n ernstige skoktoestand
bevange. Veral was dit die geval toe deur ds. Chris Neethling,
wat die hele nag by Jopie Fourie in sy sel deurgebring het,
bekend gemaak is hoe heldhaftig en gelowig daardie veroor-
deelde die dood in die gesig gekyk het. Met sy oog op die toe-
koms van sy volk gerig, het hy onder andere met profetiese blik
dit gesê: ,,Die boompie wat vandag geplant en met my bloed
benat word, sal groei en groot word, en heerlike vrugte vir ons
volk dra.”
Waar elkeen se gedagte vol was van wat ’n paar uur tevore
gebeur het, en hul harte vol was van weemoed, was die leiding
van die diens in ds. Bosman se kerk voorwaar geen maklike
taak nie. Bowendien was die situasie uiters netelig. Aan die
één kant kon wat 'n paar uur tevore gebeur het en voorop in
almal se gedagte was, nie geïgnoreer word nie. Dit sou van
kerkweë ook 'n ontvlugting gewees het van ’n dure roeping.
Maar aan die ander kant weer was die toestand uiters ontvlam-
baar. Enigiets kon gebeur. Gelukkig het ek, soos dit die
gewoonte onder predikante is, op reis met my saamgeneem 'n
aantal preke vir die geval dat dit onvoorsiens nodig mag wees.
Ek kon dus kies, en die een waarop my keuse geval het, was
beslis nie onvanpas nie. Dit was Ps. 29: ,,God in die donder-
storm.” Woedend, vreesaanjaend, gevaarlik was die losgelate
natuurkragte. Onder die voete beef die aarde. In die lug daar
bo slaan die Almagtige vlamme vuur uit. Maar tog: alle rede
was daar vir kalmte. In die storm was God ! Betekenisvol eindig
die psalm dan met dié woorde: ,,Die Here sal Sy volk sterkte
gee; die Here sal Sy volk seën met vrede.” Ek het geen toe-
passing op die heersende toestand gemaak nie. Waar alles
vloeibaar en selfs ontvlambaar was, was dit ook ongewens. Dit
was egter ook nie nodig nie. In Ps. 29 was daar immers opge-
slote ’n boodskap vir die geleentheid wat iedereen kon verstaan.