Jump to content

Afrikaner-Volkseenheid/Die Denk-episode

From Wikisource
Die Sogenaamde ,,Duitse Dokumente” Afrikaner-Volkseenheid
Die Denk-episode
deur D. F. Malan
Die Via Dolorosa


Mev. Denk was 'n dame uit S.W.A., vrou van Hans Denk, ’n Duitssprekende, op die gebied van landboukundige organisasie vooraanstaande en as gevolg van 'n vlugtige besoek op sy reis na Europa ook bekend aan my. Na sy terugkoms ontvang ek toe 'n brief van haar vragende om 'n onderhoud, wat sy as belangrik beskou het, maar tegelyk meldende dat sy haar slegs met Duits kon behelp. Ek het dit toegestaan, maar omdat ek op my Duitse bene maar slegs enigsins wankelmoedig kon staan, het ek my kollega as parlementslid, te wete dr. Bremer, vooraf gevra vir sy teenwoordigheid en hulp by die onderhoud. Dit blyk toe dat sy die draagster was van 'n boodskap van die Duitse Regering deur bemiddeling van haar man. Die inhoud daarvan was maar skraal. 'n Algemene betuiging van goedgesindheid jeens die Afrikaner-volk en sy ideale, 'n versekering dat Duitsland ten opsigte van Suid-Afrika geen anneksasieplanne het nie, en die versekering dat Duitsland, as hy die oorlog mag wen, geen beswaar sal hê teen die inlywing van die protektorate by die Unie nie ! Dit was vrywel alles. Ek het geen onderhandelings met haar gevoer nie of deur haar met Von Ribbentrop, die Duitse Kanselier van wie sy beweer het om 'n afgesant te wees nie. Die verste wat ek gegaan het, was om beleefdheidshalwe haar te bedank vir haar belangrike informasie en daaroor het ek nog nooit enige skaamtegevoel of behoefte gehad om apologie te maak nie. Geen ander reaksie van politieke of staatkundige aard, of andersins, was daar van my kant nie.
Intussen het die Smuts-regering, wat met 'n rykdom van getuienis teen indiwiduele teenstanders nou gewapen was, hom vir aktiewe optree gereed gehou - maar dan alleen ook waar dit vir homself te pas gekom het, of vir sy politieke oogmerke dienstig was. So is daar teen ettelike vooraanstaande O.B.-leiers dan ook aktes van beskuldiging voor die howe in gereedheid gehou. In die vernaamste daarvan het ek later na my bewindaanvaarding, persoonlike insage gehad, en om die minste daarvan te sê, was dit uit 'n juridiese oogpunt beskou, beslis verdoemend. Niks het egter daarop gevolg nie. Die motief daarvoor laat ek daar. Wat egter onder andere in genl. Smuts se gedagte was, het hy self geopenbaar toe hy deur sy eie ondersteuners gevra was waarom hy teen die skuldiges in die O.B. geen stappe neem nie. Sy antwoord was: ,,Ek wil hul nie straf of vernietig nie, maar ek wil hul gebruik”. En ek glo dat hy hul ook werklik gebruik het. Immers, soos hy vroeër self van hul gesê het, was die O.B. ,,in die holte van my hand”. Sy werklike politieke vyand wat hy gevrees het, was blykbaar volgens sy eie beskouing nie die O.B. nie, maar die Nasionale Party. En hy was reg !