Afrikaner-Volkseenheid/Afskeid en Vaarwel
←Bondgenootskap en Eenwording | Afrikaner-Volkseenheid Afskeid en Vaarwel deur D. F. Malan |
Geloofsdrang→ |
Daar is 'n tyd om te kom en daar is 'n tyd om te gaan. Dit is 'n waarheid wat veral van toepassing is op die publieke lewe. Waar die perk gestel word deur die wet is die saak eenvoudig genoeg. Waar dit egter van eie keuse afhang is die uitoefening of die nie-uitoefening daarvan dikwels tot eie skade, en nog meer dikwels ook tot die van ander. In ieder besondere geval, waar dit nie anders bepaal word nie moet die betrokke persoon
daarom ook met 'n gevoel van verantwoordelikheid en van onselfsugtigheid teenoor die publiek handel. Hy moet self weet wanneer hy moet uittree en getrou dienooreenkomstig handel. In hierdie gees het ek op die aand van 11 Oktober 1954 my besluit om as Eerste Minister te bedank en uit die politiek te tree, aan my kollegas in die Kabinet bekend gemaak. Dit het gebeur in die offisiële woning ,,Libertas” in Pretoria en is nog dieselfde aand aan die pers meegedeel. Vir die publiek was dit 'n verrassing.
Die tyd vir bekendmaking was deur my opsetlik só gekies om verskillende redes:
Vir eers, ten einde die gedagtes nie van die Krugerdagfeestelikhede te laat aftrek nie (die 10e het daardie jaar op 'n Sondag geval, dus is Krugerdag op die 11e gevier), het ek
die aankondiging tot die aand van daardie dag uitgestel. Maar later wou ek ook nie wag nie, omdat Strydom die volgende dag op 'n reis na Europa sou vertrek, en ek dit aan al my kollegas verskuldig geag het om 'n saak van soveel belang vir almal te bespreek in almal se teenwoordigheid.
En buitendien wou ek vir die nodige beraadslagings aan die betrokke persone en kringe al die nodige tyd en geleentheid verskaf wat billik was. Die bekendmaking was daarom bereken om op 30 November 1954 in werking te tree, wat dan ook so gebeur het. Ek sou dan uittree.
My bekendmaking op 11 Oktober was ook vir my kollegas in die Kabinet 'n verrassing en die ,,wat” en die ,,hoe” van daardie aand se gebeurtenis is heel begryplik ook in wyere
kringe daarna 'n vrugbare onderwerp geword van gissing, en ook van ,,stories”, waar en onwaar, en wel ook met goeie sowel as met minder goeie bedoelings. En aangesien dit nou nog altyd lustig voortduur, in geskrif, sowel as in lewende woord, is dit alleen reg dat ek in alle beskeidenheid ook my eie bydrae daartoe sal lewer. Dit geld hoofsaaklik die heel natuurlike en onvermydelike besprekings in verband met die opvolgerskap in die toekomende vakante Eerste Ministerspos. Ek sou my dan te definitief verklaar het ten gunste van Havenga.
Wel, as ek ten gunste daarvan was dat Havenga my sou opvolg–en ek was–dan skaam ek my daaroor nie. En dit nie alleen omrede van sy buitengewone dienste aan, en sy groot
plek in die geskiedenis van ons volk nie, maar veral ook omdat hy op die pad van ons volk se eenwording die vernaamste medebouer daarvan was. En volkseenheid is onteenseglik die onmisbare fondament, waarop alleen ons ons toekoms veilig kan bou. En buitendien was hy nou in die landsregering wat ek beskou het as die mees essensiële vereiste van ons volk se veilige en gelukkige voortbestaan. Vir my was dit vanselfsprekend dat dit nou saamgehang het met die mate, waarin ons volk sy bestaande eenheid, nie alleen kon behou nie, maar dit ook nog verder sou kon uitbrei, gepaar met die behoud en die getroue handhawing van sy eie Suid-Afrikaanse nasieskap.